Rudi Muller – Nuwe Dag

Rudi Muller – Nuwe Dag

Rudi Muller is lank nie meer ‘n groentjie in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie. Hierdie jongman is gebore in Nigel en het reeds op ‘n vroeë ouderdom besef musiek vloei in sy are. In 1999 hoor Sting Musiek sy unieke, warm stem en bied hom sy eerste platekontrak aan en kort daarna word “Kan jy my hoor” vrygestel. Dit was nie lank nie, toe is Rudi op elke fees en verhoog in die land te sien. 2002 skuif hy oor na EMI en kry die geleentheid om met internasionaal bekroonde liedjieskrywer, Lourens Fourie te werk. ‘n man wat ook baie van Dana Winner se liedjies geskryf het.

Kom ons wissel ratte en versnel op die gebeurtenisse van sy suksesvolle loopbaan, waar hy in tussen by VONK musiek aangesluit het, maar trap skielik rem by ‘n gebeurtenis is 2010 waar Rudi deur die dood gekontronteer moes word en toe nog ‘n paar ander uitdagings – soos onder andere die dood van sy pa – in die oë moes staar. Hierdie omwentelinge het Rudi se lewensuitkyk onherroeplik verander. Nie net het sy lewe verander nie, maar ook sy musiek.
Na vele ander albums, is Rudi Muller terug met ‘n splinternuwe geestelike album wat beloof om een van dié albums van die jaar te wees. Met NUWE DAG gaan Rudi grense verskuif, baanbrekerswerk doen en die persepsie totaal vernietig wat rondom “Gospel”-musiek bestaan.

Hierdie is ‘n gemaklike album. Néé, Rudi sit nie met ‘n kruis in die hand op die omslag en probeer voorgee nie – hierdie album kom uit sy hart, alhoewel die aanslag so lig en lekker is dit selfs perfek sal werk vir die langpad. En mag ek my verstout deur te sê die verwerkings is so goed en lekker gedoen, dat jy selfs ‘n dansie om die tafel sal wil maak – nie uit ligsinnigheid nie, maar sommer uit dankbaarheid teenoor die Here vir die kleinighede in jou lewe, want dis presies wat hierdie goedvoel-album jou laat ervaar.

Met die eerste snit waar ‘n praatstem ‘die begin’ uit die Bybel aanhaal, vang hierdie album dadelik jou aandag. Dan skuif die naald oor na die tweede snit, en Rudi se warm en gemaklike stem voer jou weg na ‘n geestewêreld waar JY gemaklik voel. Luister jy na die lirieke, besef jy hierdie album is 100% Woord-geïnspireerd.
Alhoewel dit ‘n lekker-luister album is wat self die mense wat nie eintlik gospel-aanhangers is mal oor gaan wees, is daar diepte tussen die lyne wat jou siel gaan voed op ‘n lekker-luister manier.
Rudi glo God het ons hier geplaas vir ‘n rede. “‘n Land vol uitdagings; maar kom ons loof die Here, geniet die musiek, want hierdie land is nie ons sin nie – dis God sin. Ons is hier vir ‘n rede, op die regte tyd en regte plek” sê hy. Wel, dit kan mens van sy nuwe album ook sê.

Rudi neem geestelike musiek na ‘n heel nuwe vlak. ‘n Vlak wat oud en jonk, klein- en grootgelowiges gaan geniet. Sonder pretensie wys hy dat God om ons is, in die motor, selfs langs die braaivleisvuur…
Hierdie is geesgeïnspireerd, want daar was nog nie so album nie – en Rudi het nog nooit so goed geklink nie. Sy eerlikeid skyn helderder as die geel baadjie op die omslag.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*