
RICKY FABER – LEEU VAN JOU HART
Hy was nog altyd net skaam om te sing, maar dis wat hy graag wou doen. Toe hy sewe jaar gelede professioneel begin optree het, het hy net een doel voor oë gehad: om vir sy twee dogtertjies te sorg. So sê die jong sanger van Meyerton, Ricky Faber, wat nou spog met ‘n splinternuwe album, Leeu van jou Hart.
“Ek het na skool gaan boer. My eerste dogtertjie is later gebore en ek wou vir haar ‘n beter toekoms gee. Ek het toe begin sing omdat dit vir my ‘n passie is en omdat ek gedink het ‘n sangloopbaan sal minder risiko’s as boerdery inhou,” vertel hy.
In 2010 het Ricky sy debuutalbum, Suiwer, vrygestel en sowat 7 000 cd’s is verkoop. Sommige van die liedjies wat veral baie goed gevaar het sluit in Deur my Oë en Kaalgat in die Reën. Laasgenoemde is byna 70 000 keer op Youtube gekyk.
Hy is dankbaar vir die goeie vordering wat sy debuutalbum gemaak het en is gefokus daarop om vorentoe selfs nóg harder te werk. “Ek is nog nie waar ek wil wees nie, maar darem al verder as wat ek was. Ek gaan op toer gaan met die nuwe album en gaan tyd saam met my gesin moet opoffer.”
Verskeie liedjieskrywers soos Christiaan Kritzinger, Rudi Muller en Cordelia het die kreatiewe ink vir Leeu van jou Hart laat vloei. In die ateljee is Ricky bygestaan deur topmusikante soos Tertius Human (vervaardiger, kitaarspel), Bruce Wallace (tromme), Denny Lalouette (baskitaar), Mauritz Lotz (kitaar), Brendan Ross (saxofoon) en Hannes van der Walt (agtergrondstemme).
Ricky meen dit was ‘n groot voorreg om saam met hierdie liedjieskrywers en musikante te werk. Hy was veral baie dankbaar dat Ross tyd gemaak het om die saxofoon vir die lied, Om Asem te haal sonder Jou op te neem – dít terwyl Ross in Frankryk op toer was. Die saxofoonspel voeg iets besonders tot dié lied wat verseker goed sal vorder.
Die bobaas countrysanger, Jason Bradley, verskyn saam met Ricky in die liedjie Dis Net Jy. Hulle stemme werk goed saam en maak van dié liedjie ‘n wenner. Ander liedjies wat op die album uitstaan sluit in Net Vir Jou, Somernagte, Net ek en Jy en Op die Dansbaan.
Inderwaarheid is die album van die eerste tot die laaste lied (daar is 15 liedjies) ‘n plesier om na te luister. Ricky het ‘n meer volwasse stand ingeneem en bied iets anders aan as dit wat ons met sy debuutalbum beleef het. Hy meen dat verandering goed is en dat ‘n mens kanse moet vat. “Ek glo in myself. Wat help dit jy gaan deur die lewe en jy vat nie die kans nie? As ek faal, sal ek weer probeer. Ek gaan my hele hart daarin sit.”
Facebook: Ricky Faber Twitter: @RickyFaber
Be the first to comment