
Ramey Short – Kannie Breek
Ramey Short, alombekend vir sy rol as Dr. Quinton Meyer in die daaglikse televisiedrama, Binneland, te sien op kykNET, het pas sy eerste solo-album, getiteld, Kannie Breek, uitgereik. Dié album beloof om aanhangers van die akteur se voete behoorlik te laat jeuk van plesier en hopenlik ook hul harte aan te raak. Die eerste enkelsnit wat vrygestel is en ook die eerste liedjie wat Ramey geskryf het, Al wat ek kan sê, kan reeds gehoor word op verskeie radiostasies landwyd.
Al die liedjies op die album beteken iets vir Ramey en is oor ‘n tydperk van byna twee jaar vervaardig. Hy het ‘n spesifieke idee gehad vir die klank van die album en het alles in sy vermoeë gedoen om dit weer te gee in sy aanbieding. Ter beskrywing van die klank op die album, beskryf hy dit as ‘n vars bries met ‘n internasionale geur. Dit is ‘n voetestamp storievertelling wat gebaseer is op boustene van hoop, liefde en inspirasie en Ramey glo elke liedjie bevat ‘n storie wat vertel moet word. Hopelik gaan elke luisteraar wegstap met ‘n warm hart en ‘n opgewonde positiewe gesindheid wat hul lus vir die lewe weer gaan aanwakker, op die ritme en lirieke van sy musiek.
Ramey droom al van kindsbeen af oor ‘n eie album, maar tyd, geleenthede en finansies het vir ‘n tyd ontbreek. Ramey se leuse, ‘Face your fears and live your dreams’ het hom laat vashou aan hierdie droom en hy het begin skryf en werk aan die album in ‘n tyd in sy lewe waar die waters nie altyd spieëlglad was nie. Die geleentheid om aan hierdie liefdesprojek te kon werk, is opnuut ‘n besef dat jy moet doen wat op jou hart gedruk word om te doen. Die storms wat ‘n mens soms moet aandurf om jou drome te bewaarheid is beslis die moeite werd. Short verduidelik dat die pad na die eindproduk ‘n strawwe een was en dat ‘n hele span kenners gehelp het met die vervaardiging.
Hy het die meeste van die 12 snitte op Kannie Breek self geskryf en die res saam met ‘n vriend voltooi. Van die vervaardigers wat genader is oor die projek sluit in Werner Beukes, Ferdinand Skead en Rian Swanepoel. Die album is ‘n spanpoging, sowel as ‘n enkellopende reis.
Short vertel ook dat die Suid-Afrikaanse musieklandskap ‘n moeilike een is om jou voete in te vind en daarom was dit so belangrik dat elke liedjie met die luisteraar sal praat en die aanbieding die luisteraar op reis sal neem. Hy erken dat om dié album op te geneem het terwyl hy voltyds gewerk het aan Binneland was beslis ‘n groot uitdaging. Soms het dit baie moeilik gegaan om hierdie droom te verwesenlik, want hy is baie krities oor sy werk. Sy eie geld is ingespan om te verseker dat die eindproduk iets is waarmee hy nie net kan saamleef nie, maar wat hom uiters opgewonde maak om dit aan die wêreld ten toon te stel. Hierdie album is iets wat ek hy van sy emmerskoplys kan afhaal. Van sy musikale ikone is Bon Jovi en Bryan Adams, maar hy is nie hier om enige iemand na te maak nie en is ‘n musikant in eie reg, met sy eie klank en sy eie woorde.
Short is nie bang vir harde werk nie – nog minder om op sy eentjie te swoeg en sweet om sy drome te bewaarheid nie. Hy het grootgeword in ‘n kinderhuis in Durbanville, en later sport- en bemarkingsbestuur gaan studeer op Stellenbosch, waar ‘n talentsoeker van Los Angeles hom genader het om sy loopbaan ‘n effense wyer draai te gooi as wat hy aanvanklik beplan het. Short het na sy jaar oorsee weer terug gekeer na Stellenbosch en nog verdere kursusse in drama voltooi terwyl hy ‘n kelner was by die destyds bekende Julian’s Coffee Shop op die studentedorp. In 2008 het hy sy eerste deurbraak gemaak deur die rol van Quinton Meyer te aanvaar in Binnelanders en soos hy self sê: “Die res is geskiedenis.”
Be the first to comment