OP PAD – GERT KOEVERT

OP PAD – GERT KOEVERT
Sanger en liedjieskrywer, Gert Koevert, se musiek is soos die woorde van ‘n liefdesbrief – eerlik, grypend, passievol en gemik op die hart en gedagtes van die ontvanger. In 2012 is sy debuutalbum, Geseëld, vrygestel en nou bied hierdie rasperstem-rocker vir die Afrikaanse musiekbedryf ‘n tweede album, Op pad.
Gert Koevert se nastrewing van ‘n musiekloopbaan het eers na ‘n heeltemal ander beroepskeuse vlam gevat. Hy is in Roodepoort gebore waarna hy en sy ouers na Kaapstad verhuis het. Hy het sy skoolloopbaan in die Kaap voltooi en daarna ‘n interessante pad gekies toe hy as skoebaduikinstrukteur vir hotelle by die Karibiese eilande gaan werk het. Hy het egter ‘n begeerte gehad om musiek te maak en het na Gauteng teruggekeer om sy skoeba-toerusting vir ‘n kitaar en mikrofoon te verruil. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.
Op pad neem jou van die eerste tot die laaste lied op ‘n interessante verskeidenheidsroete: nie net is daar beide rustige én opgewekte rockliedjies nie, maar selfs jolige boeremusiek en nostalgiese countrynommers. Volgens Gert Koevert is die inspirasie vir dié album kort en kragtig: “Alles op die album is dinge waarvan ek hou.”
Die titelsnit, Op pad, vertel van die fisiese afstand tussen twee geliefdes en is ‘n akkurate beskrywing van die langpad soos ons dit deesdae ervaar, kompleet met padwerke, tolhekke en wat nog.
Een van die vele interessante “stilhouplekke” op die album is Noord-Wes, wat saam met die klanke van die banjo en konsertina ‘n storie van sy eie vertel. Gert Koevert se kreatiewe veelsydigheid word verder ook in drie Engelse snitte, He Said She Said, Fallin’ en Run uitgebeeld.
Die lirieke op al 12 snitte op die album is eerlik en gevoelvol en slaag daarin om ‘n mens se aandag vas te vang. Hy het tien van die liedjies op die album self geskryf en gee erkenning aan John Buckley wat twee liedjies neergepen het.
Die vervaardiging van Op pad is ook deur Buckley behartig en die talentvolle Ricus Nel het die liedjies met instrumente soos die banjo en konsertina ingekleur. Die eindproduk is inderwaarheid ‘n musiekbrief wat met baie talent geskryf en gekomponeer is en boonop met die belofte van groot potensiaal geseël is.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


four × 2 =