Manne wat Glo

Manne wat Glo

Manne wat Glo – Willie Joubert, Jan de Wet, Leon Ferreira, Rudi Muller
Die Manne wat Glo-sanggroep het ‘n paar jaar gelede uit die behoefte van vier geliefde gospel sangers ontstaan – Dewald Gouws, Jan de Wet, Willie Joubert en Leon Ferreira. Hulle het saam kragte gesnoer om herlewing regoor Suid-Afrika deur musiek aan te vuur.

Met hul nuutste album – Manne wat Glo 3 – vat die immergroen sangers Jan, Willie en Leon hande met Rudi Muller om die luisteraar weereens op ‘n kragtige geestelike reis te neem. Dewald is steeds agter die skerms deel van die dinamiese groep en hy het selfs van die liedjies op die nuwe album, soos Konings van Konings geskryf asook Vrede op Aarde en Onbeskryflik Groot saam met Willie.
Manne wat Glo 3 is meer as net ‘n musiekalbum. Dit is ‘n skatkis van liedere gesing deur vier erkende solo-kunstenaars wat hulle ongelooflike sang- en skryftalent en liefde vir die Here saamsnoer. Manne wat Glo 3 is ‘n lof-en-aanbiddingsalbum wat nog lank onthou sal word.

Soos met die vorige albums, verwoord Manne wat Glo 3 die passievolle geestelike belewenis om die Here te volg en te aanbid. Die manne is reeds al lank op toer om jonk en oud by saamtrekke in die naam van die Here te bemoedig en te begeester. Manne wat Glo 3 is sonder twyfel ‘n album om te besit en te koester. Manne wat Glo 3 is propvol lekkerluister musiek wat ook waardevolle geestelike temas oordra. Al vier se stemme komplimenteer mekaar pragtig en die sinergie is onmisbaar. Die luisteraar word aangemoedig om saam te sing en op die ‘musikale reis’ word die luisteraar geestelik verryk en versterk.

Manne van Glo 3 sal vele emosies ontlok. Dit is ‘n trefferalbum wat geestelik bemoedig, wat die luisteraar roep tot oorgawe om in God te vertrou en om sonder twyfel te glo dat God die Koning van konings en die ware Herder is. Dit herinner die luisteraar Hy is ‘n God van genade en in Hom moet ‘n mens vertrou, al woed die storms.
Twaalf van die liedjies op die Manne wat Glo 3 is deur die erkende kunstenaars geskryf. Drie klassieke treffers – Amazing Grace, I Believe en Because He Lives – pronk ook op die album. Luister ook gerus na Tyd om op te staan en Kolskoot.Nie een van die vier sangers op Manne wat Glo 3 het veel bekendstelling nodig nie. Hulle is reeds lank in die musiekbedryf met die begeerte om goeie musiek te maak met die doel om aan hul Skepper lof en eer te bring.
Jan is sekerlik die pionier van Afrikaanse Christelike musiek. Hy het meer as vier dekades gelede sy eerste gospel-opname gedoen en tree steeds voltyds in Suid-Afrika en oorsee op. Deur die jare het hy bekendheid verwerf nie net as sanger nie, maar ook as predikant, komponis, skrywer, omroeper en kinderbedienaar.
Willie spog met ‘n internasionale stemkwaliteit, uitsonderlike skryftalent, en spontane verhoogpersoonlikheid. Hy skryf, sing en bedien en kan getuig van ons God van wonders. Sy splinternuwe CD, Jy is Vry, is pas uitegereik en beloof om vele harte aan te raak en te inspireer. Leon het in 1992 sy eerste CD opname gemaak nadat hy reeds twee jaar in voltydse bediening kruis en dwars oor Suid-Afrika gereis het. Sedert daardie opname het hy ‘n magdom musiekproduksies voltooi. Hoor jy die lied, My pa is die Koning, hoor jy vir Leon soos hy op sy unieke en soms komiese manier van die Here se liefde getuig.

Rudi is reeds ‘n inheemse naam in die Suid Afrikaanse musiekbedryf. Hy het ‘n paar jaar gelede tot die Christelike musiekbedryf toegetree. Van sy musiek wat gehoor kan word op Manne wat Glo 3 is Tyd om op te staan, Kom vind jou vrede en Beste Wense. Sy vorige Chrsitelike album, Tetelestai, is ‘n album wat die klank van geestelike musiek in ‘n nuwe wentelbaan geplaas het.

Die goeie nuus is dié groep manne is nog lank nie koud nie. Hulle is oorgehaal om nog vele treffer Christelike snitte te skep en met elke toer regoor Suid-Afrika gaan hulle nog diep spore in vele harte loop. Soos met die vorige Manne wat Glo albums, behoort Manne wat Glo 3 in elke Christen-musiekliefhebber se CD-versameling!
Manne wat Glo 3 is deur Vonk Musiek vrygestel.

Liedere op die album is soos volg:

  • Tyd om op te staan
  • Because He lives
  • Obeskryflik groot
  • Kolskoot
  • Oë op die kruis
  • Koning van die konings
  • Die Here is my herder
  • Kom vind jou vrede
  • Amazing Grace
  • Al wat oorbly
  • I believe
  • Beste wense
  • Vrede op aarde
  • Ewigheid wat wag
  • Ek wil U dank o Heer

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*