
MAKIETIETYDDit is heerlike lente! Die kriekies kriek en selfs die miere dans!
Jy kan ook – op die maat van die tradisionele boeremusiekklanke
van die DVD en CD MAKIETIETYD!
Die konsertinakoning Hannes Schoeman bied in medewerking met Real Music ‘n besonderse boeremusiekpakket aan liefhebbers van dié musiekstyl. Sedert 1989 het H&R-Musiek al oor die100 albums opgeneem en uitgereik.
Die jongste heet Makietietyd – ‘n dubbelverpakking met ‘n DVD en CD. Die DVD bevat beeldmateriaal wat Hannes deur die jare opgeneem het, maar nog nie voorheen uitgereik het nie. “Van die musikante, soos Marius Louw en Oom Manie Groenewald (van die Baardskeerdersbos-orkes) is al intussen oorlede. Van die beeldmateriaal is langer as tien jaar gelede opgeneem en roep goeie herinneringe op. Die musiek op die DVD word in die tradisionele styl aangebied,”” sê Hannes.
Van die land se gewildste boeremusikante verskyn op die DVD – onder andere Sollie Marx, Danie Grey, Allen Green, Die Stoepsitters en die Baardskeerdersbos orkes.
As bonus word daar ‘n CD saam met die DVD aangebied – met egte tradisionele boeremusiek (gespeel deur hedendaagse orkeste wat in die tradisionele styl spesialiseer. Tussen dié musikante is Hannes Schoeman, Robbie Holm, Gert Liebenberg, Ferdi van Zyl, Theo Slabbert en Danie Grey.
Daar is walse en setiese, vastrappe, polkas, ‘n masurka en allerlei ander musikale toorgoed!
Makietietyd is een van daardie spesiale versamel-albums wat vir Africana-status bestem is. Dit sal ‘n gesogte plekkie in versamelaars se versameling vind.
Laat die makietie begin!
Loer gerus na die webtuiste by www.hannesschoeman.com
Be the first to comment