Jy is Vry – Willie Joubert

Jy is Vry – Willie Joubert

Die geliefde en gesoute gospelsanger Willie Joubert het geen bekendstelling nodig nie. Met sy internasionale stemkwaliteit, uitsonderlike skryftalent, spontane verhoogpersoonlikheid en teologiese opleiding maak hy ‘n groot verskil oral waar hy sing en bedien.

Willie se nuutse album, Jy is Vry, gaan verseker diep spore in baie harte trap. Jy is Vry is deurdrenk met ‘n diep liefde vir God en dit spreek boekdele oor sy verhouding met die Here en sy onlangse geestelike reis. Vir die geliefde sanger is dié titelsnit sy harsbegeerte – dat elkeen waarlik die ‘mure’ van alles wat hulle skei van die Here, sal afbreek om weer God te vind. En in daardie ontmoeting word jy waarlik vry in God se liefde.
Die hartklop van Willie se musiek wentel rondom aanbidding en intimiteit met die Here, wat dien as ‘n onmisbare hulpmiddel waarmee hy sy gehore met ‘n unieke boodskap van woord en sang bedien.

Hy glo sterk dat hy nie vir vermaaklikheid geroep is nie, maar dat sy musiek juis die voertuig is om dit te doen wat hy die graagste wil doen – Jesus Christus te verkondig aan alle mense met wie hy paaie kruis.
Oor Jy is Vry sê hy: “My hart is dankbaar omdat hierdie liedere elkeen sy eie geboorteverhaal het, soos ek deur die afgelope twee jaar deur ‘n reeks van uitdagings en seisoene, soveel ervarings en oomblikke saam met die Here in my binnekamer met lied, verwoord het.”
Jy is Vry spog met 15 kraakvars, oorspronklike liedjies waarvan 14 uit Willie se eie pen. Die liedere vertel ‘n unieke en besonderse verhaal van sy geestelike reis oor die laaste twee jaar – ‘n reis van introspeksie na ‘n gesondheidskrisis en om God op ‘n nuwe manier te ervaar en te beleef. Jy is Vry neem die luisteraar op ‘n reis waar hulle self weer die God van Abraham, Isak en Jakob op ‘n nuwe manier kan leer ken en ervaar.
In Willie se eie woorde: “Ek het deur kosbare ervaring geleer dat Hy juis in my tye van ontbering en gebrokenheid my Sy hart wil wys, my wil omhels en verseker van Sy nimmer-eindigende liefde en getrouheid, selfs al voel dit soms nie so nie.”

Soos met sy vorige albums, spog Jy is Vry met musiek uit die boonste rakke. Die liedere vloei soos goud uit Willie se binnekamer van sy hart. Dit val nie net lekker op die oor nie, maar luisteraars kan ook baie lekker saamsing en deel in die lof- en aanbiddingsbelewenis.
Liedere soos Hy is die God, Daar is Krag, I Surrender, Lig in Jou Hart en God van Genade getuig van die reis wat Willie gestap het, en hy wil graag sy reis met die luisteraar deel. Dit is ‘n kragtoer sonder twyfel.
Hy sê self dit so mooi: “Dit is juis wanneer die trompette blaas en die aarde om ons skud en bewe, as ons mure wat ons in onsekereheid en deur seerkry gebou het met pyn en introspeksie inmekaar tuimel, dat ons broosheid en afhanklikheid van God ontbloot word. Dit is daar waar ek en jy ons knie kan buig en sy liefde en deernis ontdek. Dis wanneer jy jou tot Hom nader dat Hy nader kom en jou vry maak! Dan is jy waarlik vry.”
Jy is Vry verklaar onbeskaamd en met nederigheid dat God werklik die een is wat vry maak, en die luisteraar sal met elke liedjie op die album ‘n nuwe besef van God se grootheid, genade, liefde en krag ondergaan.
Wat lekker is van dié album is dat die luisteraar kan vereenselwig met die woorde van die einste kunstenaar: “Ek kies Hom nie omdat ek Hom nodig het vir my krisis of bang is om hel toe te gaan nie. Ek kies Hom vir wie hy Hy vir my geword het en dit wat Hy met Sy lewe vir my aan die kruis gedoen het.”

Willie is sowat 20 jaar in ‘n voltydse geestelike musiekbediening. Hy tree nie net regoor SA op nie, maar word ook gereeld genooi om in die buiteland op te tree. Hy het al op die jong ouderdom van vyftien jaar sy hart vir die Here gegee, en na aanleiding van hierdie ingrypende lewensveranderende ervaring het hy besluit om sy lewe te wei aan die verkondiging van die evangelie deur middel van musiek. In sy vroeë twintigs het hy alreeds die land aan die brand begin sing nadat hy met die immergroen treffer uit sy pen, Die Nagmaalslied, bekend geword het.
Willie het al verskeie toekennings ontvang vir sy talent ontvang, onder andere ATKV Lier-, OKTV en CBSA toekennings. Een van sy eie komposisies There is a river, is op ‘n internasionale aanbiddings CD, Worship Around the World, wat regoor die wereld vrygestel is, opgeneem.

Willie se pragtige vrou, Natasha, is in 2007 is as Mev Verenigde Nasies SA en Mev Verenigde Nasies INTL gekroon. Natasha is self ook ‘n sangeres en motiveringspreker en bedien veral vroue en tienermeisies. Saam vorm Willie en Natasha ‘n kragtige span wat veral huwelike regoor SA inspireer.
Jy is Vry is deur Vonk Musiek vyrgestel. Liedere op die album is soos volg: Hy is die God, Onbeskryflik Groot, Meer soos Jesus, Ons Sing Saam, Jy is Vry, Daar is Krag, Heilig Heilig, Lig in Jou hart, God van Genade, You are Holy, Maak my ‘n Dienskneg, The Lord is my Shepherd, Gebed vir Reën, I Surrender, Spirit of the Most High.
Persvrystelling – Uitgereik namens Vonk Musiek

MEDIA-UITREIKING
Datum: November 2017
Uitgereik deur VONK-Musiek
Kontak vir meer inligting
E-pos: willie@williejoubert.co.za

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*