
JUAN BOUCHER – ONTHOU JY OM JONK’
Die bekroonde sanger Juan Boucher spog met sy sesde album: Onthou jy om jonk’.
Die album bevat elf liedjies, die meeste deur Juan self geskep. Soos altyd toon dié album groei en ontwikkeling. Juan het daarin geslaag om ‘n eiesoortige skryfstyl te ontwikkel. Uit sy pen klink Afrikaans vars en cool. “Ek het drie weke net by die see en die bosveld rondgeloop om al my woorde te ontvang uit die stilte onder die wolke, bos en see. Alles wat ek wou skryf, het presies uitgekom soos heuning deur my pen en elke liewe woord wat in stories verander het, is presies wat ek wou vertel. Liedjies soos hierdie is liedjies wat jou in ‘n ander rigting stuur. Dit laat om jou glimlag en dalk help dit jou ook om iets wat jy vir iemand anders wil sê, te verwoord. Dié album verteenwoordig vryheid van die siel,” sê Juan.
Hy delf filosofies in drome, die liefde, die goeie en die kwade – die lewe: soos dit met hom en ander mense om hom gebeur. Die musiekregisseurs, Byron Keno, wat nou in Australië gevestig is, en Tertius Human, het die byderwetse verwerkings saam met Juan behartig. Tussen die albumhoogtepunte is ‘n hermengweergawe van Ons is mekaar sinne, modern gepoets deur Danny Smoke en Johan Vorster.
“Om’ n gunsteling te kies, is ongelooflik moeilik, want elke liedjie op dié album is spesiaal. Ek skryf nooit ‘n liedjie om ‘n album te vul nie; elkeen het ‘n doel en is ‘n skakel in die voltooide ketting. Maar die titelsnit troon tog uit: die woorde het natuurlik gevloei. Ek moet erken: ek het lank gebid om dié song te kon skep. Vir my is musiek die gereedskap om ons Afrikaanse kultuur te beskryf.”
Dit hoor jy veral op die snitte Mense van my asem, Wat beteken dit, Gebou om te hou, Net saam jou en Vol alkohol. Tussen die ander stewige werk is die snit In wens (deur Jan Blohm) en die duet Huisie in die bos (saam met Jan Rhaap). Juan doen ‘n eiesoortige weergawe van Bruce Springsteen se Thougher than the rest en hy laat Ballyhoo se destydse reuse-trefffer Man on the moon opnuut blink.
Geniet ʼn versameling goeie liedjies met mooi melodieë, ménsgedrewe liriek en ritmes – verposend en polsend – wat jou aanvuur om voluit te lewe.
Juan Boucher skep kontemporêre musiek wat
jou siel vryheid bied: altyd jonk!
MEDIA-UITREIKING
Datum: November 2017
Uitgereik deur VONK-Musiek
Kontak Lydia Winchester vir meer inligting
Tel: (011) 475 2187 – Sel: 082 554 8453 – E-pos: lydiaw@mweb.co.za
Be the first to comment