
Jakkie Louw – Party in SA
Die immergroen studente-sanger en liedjieskrywer Jakkie Louw is terug met ‘n woema-CD Party in SA. Dis Afrikaanse rock met ‘n Stellenbosch smaak en getoonset in die kuierplekke van Pretoria. Van Tollies tot Maloneys. Jakkie het bekendheid verwerf as eiesoortige storieverteller, om sy liriekskerpte, sy guitige humorsin en sy treffende byblymelodieë. Die snitte hierop is gesond stout en gesout met partytjiewoema!
Party in SA
Jakkie en sy vrou, Anel, het die meeste van die dertien opgewekte liedjies geskryf. Hy leen net een liedjie: die ou Kaapse deuntjie met stuitige lirieke, Koekieloekie – wat hy uit ‘n manne-oogpunt vernuwend beloer. En dan is daar ‘n gewilde boeremusiek-dierekeurspel, saamgestel uit tradisionele oordragliedjies – oor Tant Koek se hoenderhaan en ‘n kat wat altyd weer kom, ‘n dapper muis en ‘n paddakoor, ‘n kortsterthasie, ‘n wonderlike donkie, daai stertswaaiende hondjie in die venster en die jollie bobbejaan.
Die oorspronklike werk hierop is ritmiese genot en luisterryke vrolikheid! Luister net na die titels: Booty call, My tipe party, Suzie, Die boetie song, Kom ons bly ‘n bietjie wakker, Die apie dans, Kom ons vang vis (mis by die kus), Die spookhuis van Pretoria-Oos, Dis lekker om jonk te wees en Dis lekker (want die harlekyne jaag daai pikkewyne…) Sy vorige album, Die standvastige man, was ballade-gedrewe en op die fynproe-musiekliefhebber gerig. Dié keer is daar geen ballades nie; net ritmiese studenteliedjies vir al die Pikkewyne! “Dis ‘n nuwe seisoen in my lewe. Ek is nou ‘n pa van twee en het ‘n goeie vrou in my lewe. My kinders het my baie geleer van myself. Partykeer moet jy net stilstaan en die lewe en die liewe mense om jou geniet. Ons moet braai, praat oor die goed wat ons laat asemhaal, laat lag en laat lewe. Ons moet ophou kla oor dinge wat ons absoluut niks aan kan doen nie. Almal wat hierdie CD luister, sal die humor en lekker daarvan ervaar.”
En dit is gewaarborg, want die humor in die liedjies is sorgelose lewenslustigheid! Die land se beste musikante – Juan “Floors” Oosthuizen, Mauritz Lotz en Denny Lalouette looi die kitare, Bruce Wallis moker die tromme en Veronique Lalouette verleen die smeulende harmonieë. Daar’s van rock en pop tot boeremusiek, country en selfs ʼn skuit reggae hierop. Jakkie sing: “Dis my tipe party, my tipe jol, ‘n vleisie op die kole en musiek op die radio. Ons sing daai song van ‘n bottel ras. Ons sing dit saam soos toe ons jonk was. Dis my tipe party vanaand…” Boender die DJ terug in die kas en laat Party in SA in jou CD-speler tol , want hierdie is die grootste Afrikaanse partytjie van die jaar! Ja, dit is lekker om jonk te wees; al is dit net jonk van gees!
Be the first to comment