
HERMAN KLEINHANS – KAMER 4
HERMAN KLEINHANS HET BEKENDHEID AS LID VAN DIE DUO TWEE BEREIK MET DIE TREFFER EK SWEER. NOU BIED Dié GHOEMA-BEKROONDE GUNSTELING ʼn SOL0-ALBUM WAT DIE VIER KAMERS VAN DIE HART MET ROERENDE EMOSIE OMHUL. DIS ʼn BELOFTE!
Herman, wat op die dorpie Sunland, deel van die Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap gebore is, het op skool al in kore gesing. Kort voor matriek maak hy musiek in die orkes Slagyster, vaar uitstekend as ATKV-Cresendofinalis en in sy matriekjaar reik hy sy eerste musiekvideo, Kantlyn, uit. Sy skryftalent word in 2015 erken toe sy skitterende nuutskepping Ek Sweer met kykNET se eerste Afri-Visie- kompetisie se eerste prys wegstap. Verlede jaar het hy en Maria Rademan-Viviers as die duo TWEE ʼn pragtige album uitgereik. Hul talent en onopgesmukte aanslag het hulle vanjaar die Ghoema-toekenning as die publiek se gunsteling-duo besorg.
Nou bied dié talentvolle kunstenaar, wat ook vaardig met kitaar en klavier is, nóg dertien van sy treffende komposisies op sy solo-album Kamer 4.
Die liedjies op sy solo-album word gekenmerk aan musikale gestrooptheid; rou en eerlik. Hyself bespeel die akoestiese kitaar, ondersteun deur Henry Steel se snare en Melissa van der Spuy se klawers. Die skoonheid van die klankvarsheid pronk in die lewende, stemmingsvolle opnames.
Dit is ʼn persoonlike, romantiese album; met ʼn universele boodskap oor die liefde se skakerings; oor die vlinders van verliefdheid, die ekstase van romanse, tussendeur soms ontnugtering en afskeid, maar uiteindelik die besef toewyding, spontane oorgawe en tevredenheid. Tussen die albumverrassings is Herman en die rymkletser Churchill Naudé se liedjie Dis Tyd, wat as kykNET se nuwe temalied dien.
Herman is ʼn omgeemens met ʼn groot hart en juis daarom het hy sy eie internet-toepassing bekend gestel wat ‘n platform bied waar mense in nood mekaar kan ondersteun.
Hy is ʼn skitterende beskrywer van plekke en mense, herinneringe en emosie.
DIE LIEDJIES IS:
- Vir Megan
- Amsterdam
- Dis Tyd
- Kamer 4
- Ons
- Karoovlaktes
- Die Kamer Sal Weet
- Grense
- Week Vir Week
- Goeie Guns
- Halfpad
- Gifberg
- Net Jy Weet
Geniet musikale suiwerheid in meevoerende, akoestiese folkstyl. Vir besprekings kontak: Gerda van Reenen by 073.404.6171 of gerdacvr@iafrica.com
Be the first to comment