
Helenè Bester – Op Die Plaas
Helenè Bester stel kinder-album vry
[Johannesburg, 2 November 2016]: ‘n Nuwe Afrikaanse kindermusiek album, getiteld ‘Op die Plaas’, is pas deur Helenè Bester en Kristi Kat uitgereik en beloof om ‘n treffer te wees onder jong kinders en hul ouers.
Dit is Helenè Bester se eerste kinder-album en dié keer word sy vergesel deur ‘n vriendelike karakter, genaamd Kristi Kat. Helenè, wat self ook deesdae ma is (van klein Kristi Ellen Theron, 17 maande), sê sy kan haar nou vereenselwig met ouers wat op soek is na gehalte-musiek vir hul kinders. “Ek het besef daar is ‘n behoefte aan nuwe Afrikaanse musiek en veral aan goeie, verwerkte FAK-liedjies,” sê sy. Helenè Bester, self ‘n voorstaander van suiwer taalgebruik, sê: “Daar is nie baie Afrikaanse kinder albums vir ouers beskikbaar nie. Ek voel dit is belangrik dat kinders steeds goeie Afrikaans moet leer praat en sing, reeds van ‘n vroeë ouderdom af. Hierdie produksie is dan ook so saamgestel dat dit hierdie doelwitte ondersteun.”
Van die snitte sluit in die bekende Hasie (oorspronklik deur Al Debbo vertolk) en Des en Dawn Lindberg se Die gezoem van die bye. Die lirieke is effens gemoderniseer en Roche Victor het as musiekregisseur vir die album opgetree.
Afgesien van bekende treffers soos Oupa se Ford en immergroen slaaptyd-liedjies soos Sterretjie, bevat die album ook vier splinternuwe snitte (deur Helenè self geskryf): Gebedjie, Die Plaashek en Kristi Kat, die temalied.
Kristi Kat is die groot en vriendelike pienk-en-blou kat wat saam met Helenè optree en maatjies met haar oulike persoonlikheid betower!
‘Op die Plaas’ is geskik vir voorskoolse luisteraars, maar jong kinders vanaf graad 1-3 sal ook hierby kan aanklank vind. Die snitte is geskik as goeie materiaal vir deelname by kunswedstryde.
Helenè het ‘n lank gevestigde naam in die Afrikaanse ligte musiek-bedryf en is vir, onder andere, Geraas- en Ghoematoekennings benoem. Sy is bekend vir gewilde treffers soos die duet Nie te Laat nie (geskryf deur Barney Lategan), waarvoor sy en Gerhard Steyn in 2012 ‘n Tempo-toekenning ontvang het en die Youtube treffer, Iemand om vas te hou.
Helenè Bester was al voorheen ook benoem vir Tempo-toekennings in die kategorie: Vroulik Kontemporêr. Helenè doen tans verskeie solo-optredes en tree ook saam met haar broer Cobus Bester op, maar vir eers verg Kristi Kat al haar aandag!
Die album is nou in alle musiekwinkels beskikbaar asook op iTunes. Vir meer inligting besoek die facebook blad ‘Helenè Bester en Kristi Kat’. Vir ‘Helenè Bester en Kristi Kat’ optrede besprekings kontak Christa Lombard by 082 652 6057 / christa.lombard@telkomsa.net
Be the first to comment