HELENA HETTEMA 21 Plus: 2017

HELENA HETTEMA 21 Plus: 2017

Die gevierde kunstenaar Helena Hettema is ‘n musikale enigma! Dié sangeres, liedjieskrywer en aktrise vier 22 jaar in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf.
Die nuwe album heet 21 Plus: 2017.

Sedert haar debuut-album, Fool’s Gold, is Helena se sonderlinge talent telkens erken: onder meer met twee SAMA-benoemings,’n SABC2-Geraastoekenning as die beste vroulike solo-kunstenaar vir haar briljante CD Divided Heart – én met verering van haar alma mater, die Universiteit van Pretoria met ʼn laureates-toekenning vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste.
Sy sing in Afrikaans, Engels, Nederlands, Vlaams, Frans en Italiaans en haar talent word wyd erken: ook in Zimbabwe, Botswana, Londen, België, Nederland, Italië, Nieu-Seeland, Madagaskar en Turkye
Die nuwe album – 21 Plus: 2017 – bevat 23 snitte: splinternuwe verwerkings en opnames; onmiddellik konsertgedrewe.

Tussen die opwindende werk hierop is Helena se duette met die Ghoema-bekroonde klassieke trio Con Gracia, wat met stem, saxofoon, viool en fluit sonderlinge bekoring verleen aan Leonard Cohen se Dance Me to the End of Love en Jacques Brel se If We Only Have Love en haar stuitige nuutskepping, Silly Cyber Tango-dans: ‘n tweetalige heerlikte oor die wispelturige dolheid van die sosiale media.
Helena se ander eie komposisies in Engels – Papermen, Jasmine Lament, Mother of Mine en Song for Him – getuig nie net van haar universele wêreldmusiek-aanslag nie, maar ontgin die talle genres waarin sy uitblink; naas kabaret, jazz, blues en folk, ook ballades, pop en rock!
Tussen die ander kragtige moderne werk is die snitte Adrenaline Rush en Mio Cuore NY (in medewerking met Marguerite van Reenen geskryf).

Helena se vertolking van die Ralph McTell se ikoniese lied Streets of London en Neil Diamond se September Morn (in duet met César de Almeida) is wêreldklas.
Haar musikale omwerkings en interpretasies van ‘n aantal gedigte is die toonvenster van dié formidabele kunstenaar se vaardigheid en vernuf. Tussen dié werk is die snit Funeral Blues, gegrond op die Engelse digter William (HA) Auden se werk, Stop the Clock. Wilhelm Joubert, pianis en musiekonderwyser, het die musiek geskryf en speel klavier op dié snit.

Haar toonsetting van Annie Flint se Strength of the Day delf diep.
Helena bring hulde aan haar pa met die liedjie A Thousand Winds That Blow (gegrond op Mary Elizabeth Fry se gedig Do Not Stand at My Grave and Weep) waarvoor Helena die musiek gekomponeer het.
Van die mooiste werk kry jy in spontane Afrikaans: haar eie Skadudans, Martin van Tonder se Meise wat wag en Lieze Stassen se Stof tot stof.

Die hoogtepunt van die album is gewis die regstreekse konsert-opnames van die progressiewe kabaretgesoomde werke: van Lili Marlene en Jacques Brel se Mariek en Port of Amsterdam tot Leonard Cohen se folkjuweel Joan of Arc, die jazz-uitdaging It’s Wonderful en die kragballade Ballad of Lucy Jordan.
Helena Hettema se album én vertonings word gekenmerk aan passievolle oorgawe, musikale integriteit, emosionele bekoring en professionele vernuf!
www.helenahettema.com

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*