
Hannes Schoeman – Kerslig & Konsertina
‘n Konsertina is ‘n draagbare instrument wat jy in jou hande vashou. Dit het klein, blink knoppies vir klawers en ‘n blaasbalk wat die lug oor metaaltongetjies blaas. ‘n Instrument wat se klank al deel van ons DNA is. Maak nie saak waar jy in die wêreld dwaal; sodra jy ‘n stukkie boeremusiek en die gehyg van ‘n konsertina hoor – weet jy daar’s landsgenote naby.
Gepraat van nostalgie – dis presies hoe Hannes Schoeman ons harte uitmekaar kom trek het met hierdie album. Nes hy sy Konsertina uittrek, en dan terug druk met lug wat beheer word deur dimaniese, vinnige vingers wat ‘n kers kan uitblaas…
Gepraat van kers…. Hannes Schoeman bring nostalgie met ‘n immergroen instrument en blaas die hartsnare aan deur dit met ‘n kerslig te kombineer, maar wanneer jy hierdie album aansit, besef jy dis nie net ‘n bemarkingsfoeflie nie. Hierdie album moet jy kop agteroor gooi, ‘n kers aansteek, ‘n glasie van jou gunsteling volmaak en terug gaan in tyd. Of dalk net die oomblik geniet.
Anders as ander boeremusiekalbums wat meestal gefokus is om die mense op die dansbaan te hou, is hierdie een van die min albums wat jy na boeremusiek kan LUISTER. Waarmee jy nostalgies kan word en heimwee oproep.
Romantiese titels is gekies wat hierdie album nóg meer spesiaal maak soos “Sononder in die berge, Plek in my hart, Ek strooi rose, Heimwee, Lantern Polka” en nog vele meer.“Magoebaskloof” is só ‘n groot treffer, dat Hannes dit op publieke aanvraag terug gesit het op hierdie album.
Hierdie album gaan jou rustig maak. Dit gaan die perfekte geskenk vir iemand vir die langpad wees. Of wees selfsugtig, en koop hom vir jouself. Jy verdien dit.
‘n Uitstaande kwaliteit produksie in die boeremusiekgenré wat so goed opgeneem is dat jy selfs kan hoor hoe Hannes se vingers die swart diamante indruk en hul van lekkerkry uitspring.
Dis asof jy meer as net musiek hoor; jy hoor Hannes én die instrument se siel wat in harmonie wieg op hierdie album!
Be the first to comment