GnT Band – Kom Kuier Saam

GnT Band – Kom Kuier Saam

Skink ʼn G&T en geniet dit op die maat van GnT Band se partytjieklanke op die album Kom Kuier Saam!
Eugene “Gino” Prinsloo en Thys Beukes pas soos jenewer en tonikum bymekaar; ʼn duo in smaaklike harmonie.
Of jy vleis of slaai verkies, jy gaan jou verkneukel aan dié gemaklike duo se toeganklike aanbieding.
Gino en Thys kom albei van Kimberley af en het een aand in ’n kuierplek ontmoet waar Thys opgetree en Gino klank gedoen het. Hulle het onmiddellik gekliek en gespot dat hulle dalk iets moet saamdoen en so is die idee vir GnT gebore. Albei put inspirasie uit kunstenaars wat hard moes werk om sukses te behaal. “Baie van ons plaaslike sangers moes hard woeker met hul talent en dit verg wilskrag om welslae in dié uitdagende bedryf te behaal,” sê hulle.

Die klem val op vermaak, saamsingvrolikheid, afgewissel met ʼn intieme, romantiese erns.
Dit is ʼn kuier-album vir elke partytjie en geleentheid waar mense bymekaar kom om samesyn te geniet: op die dansvloer of langs die braaivleisvuur. Die manne vertel stories oor die alledaagse, die mense wat ons ken, die dinge wat ons ervaar en die behoeftes wat ons almal koester.
Tussen die gewisse treffers is Rouxhan Cloete (wat die meeste van die liedjies hierop geskryf het) se polsende popliedjie Langsaan mekaar wakker word; oor daardie stoute sug met ʼn eerste ontmoeting dat dalk tot iets meer kan lei. Die vriendskap-liedjie Die Bra Song, die kameraadskapsnit Dis ʼn manneding, die disko-nommer Dit klap so, die opgewekte countryliedjie P.A.R.T.Y. en die rockgedrewe snitte Bulletproof Heart en ʼn Theuns Jordaan-keurspel (met Soos bloed, Sal jy bly? en Roeper van my hart) gaan kuierruimtes laat vlamvat!

Die duo se weergawe van die groep Journey se positiewe, radiovriendelike snit Don’t Stop Believin’ en die ritme-ballades Desire, Laaste Kans en Groenkoring laat die bloed bruis en die liefdesliedjies Jy’s Beautiful, Vat my jammer en, veral, Liefde is in beheer, roer die hartsnare.
Die duo het nog baie planne vir die toekoms, waaronder ’n gospel-vertoning later vanjaar, ’n landwye toer, optredes by ’n paar musiekfeeste en kuierplekke en, natuurlik, later nóg ’n album.
Vul jou musiekglas met GnT Band se kuierklanke – en laat die partytjie begin!
Volg hulle by Facebook – https://www.facebook.com/GandTmusicians/

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*