
GESEËLD – GERT KOEVERT
Sowat ‘n dekade gelede tydens ‘n gig saam met Gian Groen is Gert Koevert gebore. Skielik was Gert Marais iets van die verlede en het die nuwe verhoognaam vasgehaak. Vandeesmaand debuteer Gert Koevert met Geseëld, ‘n kookwater album wat dié sanger en liedjieskrywer saam met Jan Blohm as produksieleier en mede-musikant opgeneem het.
Gert glo musiek is ‘n “kuns en het besluit om onder te begin en in kroeë te begin sing”. Binne ‘n jaar het Vonk Musiek hom ‘n platekontrak aangebied. Die voormalige Walskipper van die Kaapse weskus en gekwalifiseerde kommersiële duiker het immers al in 2010 besluit om die musiekbedryf as ‘n voltydse loopbaan aan te pak en Gauteng toe getrek.
“My vrou, Karina, het eendag vir my gesê dat ‘n mens jou Godgegewe talent moet gebruik en ek het daar en dan besluit dat ek ‘n keuse moet maak tussen geld en geluk (finansiële stabiliteit) of om my droom na te volg,” vertel die sanger wat ook dertien van die veertien liedjies op sy nuwe album sélf geskryf het.
Geseëld knetter van die robuuste rock en atmosferiese kitaarklanke danksy die vingervernuf van Koevert, Wouter van de Venter, Jon Buckley en Blohm. Saam met die poprock is daar ook ballades, ‘n skeutjie dans asook ‘n bietjie alternatiewe musiek. Sy warm rasperstem sorg dat treffers soos Diep in my oë, Jy’s die een en Waar is jy in ‘n kits onder die luisteraar se vel inkruip.
Koevert het twee kinders, Adriaan en Caitlynn. Maar as dit by sy “liedjie-kinders” kom, voel dit vir hom asof hy onregverdig een sal moet voortrek. “As ek moet kies, sal ek seker Jy is die een kies, omdat dit na ‘n keerpunt in my lewe verwys. Dit is die song wat ek vir my vrou, Karina, geskryf het toe ek haar gevra het om met my te trou.”
Sy lirieke kom uit die “kuile van sy hart”, vertel die passievolle musikant wat reeds van kleins af sy liefde vir musiek ontwikkel het. “Ek het as peuter saam met my oupa gegaan wanneer hy koor afgerig het en reeds toe het my liefde vir musiek begin blom. Op laerskool het ek my eerste kitaar gekry en het ek die basics van kitaarspel by oom Kobus in Ashton geleer.”
Gert Koevert het al die verhoog met verskeie top-musikante soos Dozi, Romanz, Valiant Swart, Nicholis Louw en Jan Blohm gedeel, maar met Geseëld tree hy as volbloed-musikant voluit in die kollig. Geseëld is ‘n witwarm poprock-album wat tot gehore, oud en jonk, met sy oorspronklikheid en saamsing-deuntjies sal oorrompel. Voeg daarby die heer Koevert se unieke stem en skryfstyl en hier is ‘n album wat die kol gaan tref!
Facebook: Gert Koevert
Be the first to comment