Gerhard Steyn – Hartvanger

Gerhard Steyn – Hartvanger
Platinum bekroonde sanger Gerhard Steyn, met sy diep-dimpel glimlag, bewys weereens dat hy die midas faktor besit. Sy musiek is oorspronklik, uit die hart en genotvol en sodoende verdien hy sonder twyfel die ere titel “Die Platinum Prins van Afrikaanse musiek”.
Die nuwe album Hartvanger is propvol oorspronklike musiek wat ‘n nuwe meer volwasse kant van Gerhard Steyn na vore bring. Die tema van die album is volwasse liefde.

Gerhard Steyn het in 2004 sy eerste album Teen die berg vrygestel. Teen die berg word beskou as ʼn baanbreker album in die Afrikaanse-musiek industrie. Gerhard Steyn het hier bewys dat dit wel moontlik is om ʼn kommersiëel haalbare album vry te stel wat slegs oorspronklike materiaal bevat.
Met Breekbaar in 2008, Gerhard Steyn se derde album, breek hy deur met die reuse treffer Baby Tjoklits. Hy volg díe treffer op met ander soos Diamante vir Jou, Stealing Stars, Sexy Vere, Dimpels, Rooi Roos, Jy’s my hartklop, Parfuum, Soldaat van God, Een Man Army, Wie’t gesê Liefde’s Blind en Afrikaanse Meisies.
In ‘n relatiewe kort twaalf jaar het Steyn homself stewig gevestig as ‘n legende in die Afrikaanse pop/rock genre, en die nuwe album gaan hierdie status net verder voer.

Konsep en voorbereiding vir die nuwe album het reeds in middel 2015 begin. Gerhard Steyn vertel “Ons was besig met ‘n landwye toer toe Hartvanger, die titelsnit, in my gedagtes begin dwaal het. Dít was die grondslag waarop ek die album geskryf het. Ek wou ‘n meer substantiewe album maak maar met liedjies wat steeds lekker dryf. Met elke liedjie het ek probeer om drie elemente saam te vat, naamlik ritme, betekenisvolle lirieke, en mense moet maklik kan saamsing. Ek wou nie net ‘n album “vol mooi liedjies” maak nie, mense moet hulself met die lirieke assosieer, terwyl dit ‘n betekenisvolle boodskap dra.” In hierdie doel slaag Gerhard Steyn onomwonde.
Met eerste opslag is dit duidelik dat Gerhard Steyn se nuwe en elfde album Hartvanger weereens ʼn reeks treffers gaan oplewer. Vars polsende klanke – in sy tipiese kreatiewe styl – word aangebied met diep-deurdenkte lirieke wat beide die voete laat jeuk en die hart warmer laat klop. Sy immergroen jeugduigheid word pragtig uitgebeeld deur “Miljoenêr”, ‘n nommer wat lekker los gesels oor die dinge waarmee ons daagliks in ons gedagtes sit en waarmee almal van ons hom of haarself kan vereenselwig.

Met díe album het Gerhard Steyn ‘n meer volwasse aanslag op sy musiek, bevestiging dat hy altyd saam met sy gehoor beweeg. Sy diepte en emosionele rykheid kom na vore met die pragtige “Nooit Alleen”. Díe liedjie se titel word weerspieel deur die alombekende geestelik inspirerende plakaat waar twee rye spore skielik een ry word, en die skywer vra waarom God hom verlaat het. Daarop antwoord God dat die ry voetspore wat oorbly Syne is en dat Hy jou dra. Gerhard Steyn vertel: “Ek kan nou met julle deel dat met my vrou Zelri se swangerskap ons deur diep waters gegaan het. Mens besef nie hoe maklik dit is om van God se genade en ondersteuning te vergeet nie. Die ervarings waardeur ek en Zelri met haar swangerskap was het my weereens herinner dat ons nooit alleen is nie, al voel dit soms so. Ons moet nooit vergeet dat Iemand jou maar altyd in Sy hande omvou nie. So wil ek ook vir my dogtertjie laat weet dat solank ek daar is, ek daar sal wees vir haar as haar Pappa, net soos God ons Vader is en altyd daar vir ons sal wees.”

Ook ingesluit is die liedjie “Paul Roos”, ‘n nommer wat vir die film Modder en Bloed geskryf is, en al die maaksels het van toekomstige volks-besit. ‘n Tweede snit wat ook in ‘n film gebruik was is “Vergewe my” uit die film 70×7, waarin Steyn ook ‘n hoofrol vertolk het.

Effens onverwags en op ‘n verassende wyse kom die “Lekker Legende Keurspel” op die toneel. Steyn verduidelik: “Op soveel vertonings vind ek dat mense sekere ouer liedjies aanvra. Díe keurspel het ten doel om ou gewilde liedjies saam te vat, weer lewe te gee en terwyl die ouer gehoor nostalgies saamsing word dit ook aan my jonger geslag luisteraars bekend gestel. Daarmee saam is dit ook lekker om hulde te bring aan die grotes van vroëer”. Díe keurspel is saam met Die Campbells opgeneem. Nadine sluit ook weer by Steyn aan vir nog ‘n treffer-duet “Ons twee”.

Hartvanger is reeds op die rakke, en is sonder twyfel Gerhard Steyn se mees volwasse album nog. Bestaande aanhangers sal nie teleurgesteld wees nie, en die verwagting is dat die hierdie album nuwe hoogtes gaan bereik.
SNITTE OP DIE NUWE Hartvanger CD:
1. As jy iemand so lief het
2. Hartvanger
3. Deel van Jou
4. Miljoenêr
5. Venus & Mars
6. Ons2 (met Nadine)
7. Nooit Alleen
8. Paul Roos
9. Asemhaal
10. Dierbare ding
11. Lekker Legende Keurspel (met Die Campbells)
1. Osbraai op Kromdraai
2. Dans met die Rooi Rok
3. Wil jy dans Carina
4. Ek en my meisie
5. Boesmanland
6. Karolis
7. Royal Hotel
8. Ek reik na die Sterre
9. Neem my op vlerke
12. Vergewe my

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*