
Die internasionaal erkende musiekvervaardiger, verwerker, musikant en sanger, Ernie Bates het oor 17 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ook trotse internasionale welslae behaal.
Ernie was ‘n lid van die a capella-groep, Overtone, wat in 2009 deur Dina Eastwood, die vrou van die beroemde akteur en regisseur, Clint Eastwood, ontdek is. Ernie en sy ses kollegas in dié sewestuk-groep, het die Eastwoods só beïndruk dat hulle die meerderheid van die film, Invictus, se klankbaan opgeneem het. Ernie het vyf van die liedjies verwerk en vervaardig. Die klankbaan is vir ‘n Oscar benoem.
Ondanks sy internasionale welslae, het Ernie nie sy liefde vir sy moedertaal verloor nie. Met sy solo-album, Ek en Jy in 2014, het hy sterk gedebuteer. Die treffers Ek en jy en As jy iemand so lief het flink op verskeie radiostasies se treffersparades baljaar.
Ernie se nuwe album is weer ‘n getuigskrif van sy talent. Dié album bevat vyftien snitte – die meerderheid weer uit sy kreatiewe pen; met, tussen die treffendste liedjies; Droom, Mal oor jou en Soen my glimlag.
Daar is ook drie snitte in Engels, waarop Ernie sy warm stem en styl veelsydigheid ten toon stel: Dwight Yoakam se Things Change, Bruce Springsteen se Tougher than the Rest en The Bellamy Brothers se Guilty of the Crime.
Ernie se warm stem vou mooi emosie om die ballades. Tussen dié snitte is die ode-lied, My ouers, roerend. Die vroliker ritmesnitte hét woema – soos die skare-aanporkreet, Springbokgees. Met ʼn wye verskeidenheid temas en style – pop, rock en country – bied dié album heerlike luistergenot.
Dié veelsydige musikant is uiters vaardig. Hy het die ganse produksie – komposisies, verwerkings, programering, orkestrasie (akoestiese, bas- en elektriese kitare, klawerbord, tromme én al die harmoniestemme), opnames en finale meng by sy produksiehuis, Sweepslag Studios behartig.
Ernie Bates se album Droom is ‘n klankbaan van professionele geesdrif wat bevredig!
Facebook: Ernie Bates Twitter: @erniebates
Be the first to comment