
Ek en jy – Ernie Bates
Die internasionaal erkende musiekvervaardiger, -verwerker, musikant en sanger, Ernie Bates, het al baie spore in die Suid-Afrikaanse sowel as internasionale musiekbedryf getrap. In die meer as 15 jaar wat hy reeds in die musiekbedryf werk, het hy al baie bereik. Sy lewe is aan die kuns van musiek,die skryf, vervaardiging, verwerking en bemeestering daarvan – toegewy.
Hierdie jongman met die warm stem was ook deel van die a capella-groep, Overtone, wat in 2009 deur Dina Eastwood, die vrou van die befaamde akteur en regisseur, Clint Eastwood, ontdek is. Ernie en sy ses kollegas in dié sewestuk-groep, het die Eastwoods só beïndruk dat hulle die meerderheid van die film, Invictus, se klankbaan opgeneem het. Ernie het vyf van die liedjies gerangskik en vervaardig en die klankbaan was ook vir ’n Academy Award benoem.
Overtone het konsertvertonings vir groot, internasionale name soos onder meer Corinne Bailey Rae (in Vancouver, Portland, Seattle en San Francisco) en OneRepublic (in Wes-Hollywood) geopen. Die groep het ook die verhoog gedeel met Pia Toscano’s, Donna Summer, Kevin Bacon and the Bacon Brothers, David Foster, Kenny Logins en Seal. Daarby het hulle tydens ’n privaatvertoning vir die legendariese Quincy Jones en Tony Bennet opgetree.’n Mens sal dink dat hierdie ervarings dalk vir enige sanger genoeg sal wees, maar dit is nie die geval met Ernie nie. Sy entoesiasme en drome strek verder en met die vrystelling van sy debuutalbum, Ek en Jy, slaan hy ’n nuwe rigting aan.
Daar word nie verniet gesê dat Ernie veelsydig is nie; elkeen van die 12 liedjies op die album is deur hom geskryf, gekomponeer, vervaardig en gemeng. Ook die tromme, klawerbord, agtergrondstemme en kitare (akoesties, bas en elektries) is deur hom behartig.
“Die liefde van my lewe, Tanya, is die inspirasie agter meer as die helfte van die songs op die album,” vertel Ernie. En die verliefdheid kan duidelik in die rits treffende liedjies soos onder meer Jy’s Die Beste Deel Van My, Jy’s My Nommer Een en She’s The Greatest Gift gehoor word.
Spesiale melding moet van die titelsnit, Ek en Jy, asook My Keuse Is Net Jy en As Jy Iemand So Lief Het gemaak word. Die deuntjies kry dit reg om lank nadat jy daarna geluister het, nog in jou kop te maal. Boonop vorder Ek en Jy en As Jy Iemand So Lief Het reeds uitstekend op plaaslike trefferlyste.
“Die liedjies Ek en Jy en As Jy Iemand So Lief Het was altesaam vir meer as 13 weke heel bo aan Bosveld Stereo se Top-20-lys. Ernie se liedjies vorder ook baie goed by ander radiostasies soos onder meer Radio Laeveld en IFM,” vertel Ernie se trotste bestuurder, Johan Taljaard.
Overtone se liedjie Nothing Else Matters, waarvan Ernie ’n medeskrywer en verwerker was, het in 2012 ’n groot treffer op die radiostasie, Sirius XM, se trefferlyste geword. Die liedjie het selfs stof in Lady Gaga en Justin Bieber se oë geskop. As Ernie dit saam met Overtone kon vermag, kan ’n mens groot dinge van hierdie man se debuutalbum af verwag. Die vraag is nie “of” nie maar eerder “wanneer” Ernie sy deurbraak gaan maak…
Facebook: Ernie Bates Twitter: @erniebates
Be the first to comment