
OULAP SE PAD
DANIEL EEUWRICK – OULAP SE PAD
Die argitek en bekroonde liedjieskrywer-sanger Danie Eeuwrick Bekker bied fynproemusiekliefhebbers ʼn splinternuwe gehalte-album: Oulap se pad.
Sy verhoognaam is Daniel Eeuwrick. “Danie kom van Daniel (my oupa se naam). Eeuwrick is my tweede naam (my pa is ook Eeuwrick). Danie Bekker is my argitekpraktyk se naam,” verduidelik hy.
Dié gebore Bloemfonteinse losloper, wat deesdae in Beachview, net buitekant Port Elizabeth woon, is erg beskeie en meen dit was onverwags toe sy debuutalbum, Op ʼn leë paron, in 2014 as beste nuweling en beste produksie benoem is – én met die Ghoema-toekenning in die alternatiewe genre bekroon is. Hy het argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat studeer – én sy graad met onderskeiding verwerf.
Hy sê: “Argitektuur en musiekskep begin albei met ‘n konsep wat dan met detail ontwikkel om stelselmatig ‘n eindproduk te skep. In albei het jy ‘n span wat help om dit te doen. ʼn Span bou die konstruksie van ʼn gebou-ontwerp. En ʼn musikale span konstrueer ʼn liedjie-ontwerp. Albei verg konsentrasie en vernuf, verweef met kunstenaarsvryheid – én ‘n ‘mindset’ wat in die eindresultaat gesien of gehoor kan word. Albei is ‘n vorm van kuns.”
Daniel beskryf die nuwe album as “meer ‘elektries’ as ‘akoesties’ en meer op die man af en, in ‘n sekere sin, meer ‘volwasse’ as ‘emosioneel’. ‘n Mens groei mos maar soos die tyd aanstap. Alhoewel my ‘mindset’ anders was toe ek die nuwe album begin skryf het, het elke liedjie steeds ‘n storie wat van êrens af kom.”Hy werk in uiteenlopende genres en gevolglik kry party liedjies ‘n alternatiewe aanslag, terwyl ander sagter gepoets word. Daniel bespeel self die akoestiese kitaar.
Naas sy eie nuutskeppinge, vertolk Daniel ook werk van Anton Goosen (Gansbaailapa), Piet Botha (Bourbon Street) en sy toonsetting van Ingrid Jonker se gedig Aan Uys Krige. Luister gerus ook na Afrika-kind,Kaalvoet girls, Sien jou weer, Jannie Rooi se brug, Pockets Full Of Silence, Spooktrok, Oulap Se pad, Poker Face en Your Smile
Die musikale verwerkings en produksie is weer deur Peter Pearlson behartig. Met die musikante Floris le Roux, Willem Möller, Schalk van der Merwe, Piet Botha, Keith Farquharson, Kevin Gibson en James Crossley. Rudolph Kuschke,Floris le Roux en Stephanie van der Walt verleen die soomsang.
Snare (elektries, akoesties en bas), klawers, tromme, perkussie, mondfluitjie en mandolien is die boustene waarmee Daniel se stemgruis, bybly melodieë en prontuit- lirieke in kreatiewe uiting gegiet word.
Daniel is tevrede met sy musieklandskap. “Maar ʼn mens dink mos maar altyd jy kon beter doen…”
Ervaar Daniel Eeuwrick se musikale argitektuur!
Be the first to comment