
DANIE VAN DER WESTHUIZEN – BOERSEUN
Danie van der Westhuizen het sedert hy matriek voltooi het, by al wat kroeg en klub is ge-DJ en musiek by allerlei gesellighede in die Boksburg-omgewing gespeel. Mettertyd wou hy graag sélf die kunstenaar wees. Hy het stelselmatig klanktoerusting opgebou en in 2008 self begin optree en ‘n geslaagde demo-CD opgeneem.
En toe, in 2015, het Danie finaal besluit: hy wil sy eie album uitreik. Die musiekveteraan JJ Stephens het hom aan Ernie Bates voorgestel en die produksies het in Desember 2016 begin.
En hier is die eindproduk: Boerseun – met twaalf oorspronklike snitte uit Danie se pen. Sy aardse, mensgerigte komposisies word gekomplementeer deur Ernie (wat al die instrumente bespeel) se stewige produksie, verwerkings en programmering.
Danie se aangename stem, met ‘n boeiende gruisregister, bekoor en nooi die luisteraar om na elke liriek te luister. Boonop is hy ‘n veelsydige vertolker, wat gemaklik tussen innige ballades, country-vreugdes en Boeremusiek-joligheid (Goud en silwer) wissel.
Daar is manlike trots in Boerseun, gesonde patriotisme en geloof in die snitte Saamstaan en ‘n Nuwe begin, romanse in Ek moes weer in liefde glo en Diamant – én opskopritmes in ‘n Country-aand.
Saam met die snitte Liefde en water, Jy sal my nie kan keer nie, Uit die hemel uit , ‘n Oproep het alles verander en die nostalgiese onthou-snit Die storieman kry die luisteraar ‘n waardige verteenwoordiging van Danie se vaardigheid en talent.
Hy vertolk met ‘n rustige passie in vertelstyl en kleur die melodieë in met klankryke lirieke.
Danie van der Westhuizen is ‘n Boerseun mét ‘n storie! Luister en voel goed!
besprekings@danievdw.co.za
www.danievdw.co.za
MEDIA-UITREIKING
Datum: November 2017
Uitgereik deur VONK-Musiek
Kontak Lydia Winchester vir meer inligting
Tel: (011) 475 2187 – Sel: 082 554 8453 – E-pos: lydiaw@mweb.co.za
Vra Danie om ʼn goeie jong sanger te help en luister vir CD’s.