
Chané Valentine – Die verkiesing
Die verkiesing
Hier is ʼn opwindende byderwetse Afrikaanse popklank! Chané Valentine bekoor en verlei met haar splinternuwe album Die Verkiesing.
“Maak my die president van die liefde, lewe en geluk!” vra die pragtige sangeres Chané Valentine in haar splinternuwe trefferliedjie Die verkiesing. Chané, wat Suid-Afrika al talle kere by internasionale sangkompetisies in Wallis, Orlando en Los Angeles verteenwoordig het, as genooide kunstenaar by die Miss Mediterranean-skouspel in Ciprus opgetree het en onder meer met ʼn hoër sertifikaat in musiekvertolking van COPA (Campus of Performing Arts) spog, se musiek word gereeld op radiostasies in Australië en Nederland en op Radio Eurovision International gespeel.
Nou word aanhangers opnuut met haar verfrissende styl bederf op haar album Die Verkiesing – met liedjies deur Johan Oberholzer (Die verkiesing, Bewe), Vaughan Gardiner (Ek wil val), Juan Boucher (Visioen, Plekkie in die son), Roux Cloete en William Loots (Beautiful vanaand, Half klaar, Dankie, Vuur met vuur). Dan doen sy popregweergawes van Biscuits, I don’t want to miss a thing en ʼn keurspel met gewilde treffers van die tagtigerjare. Vaughan Gardiner, Byron Keno en Tertius Human het die byderwetse produksie in uiteenlopende genres – met selfs ‘n skeut country – behartig. Chané is deeglik opgelei in sang, musiek, dans en drama. Sy is ook ʼn gesogte fotografiese model wat al die voorblaaie van uiteenlopende tydskrifte versier het. Sedert die uitreiking van haar debuutalbum Liefies vir jou in 2012 word haar liedjies op verskeie radiostasies landwyd en, ná oorsese optredes, ook internasionaal gehoor. Chané se moderne styl is sorgeloos en energiek, gegeur met eerlike emosie. Dit herinner aan die styl van Ariana Grande. Wanneer sy nie op die verhoog of tydskrifvoorblaaie pryk of in televisiereekse, rolprente en musiekvideo’s skitter nie, verruil sy die glans van die vermaakwêreld vir onbaatsugtige liefdeswerk vir die Dierebeskermingsvereniging. Dié voormalige hoofmeisie, rasieleiers-kaptein en voorsitter van Vereeniging se Rotariërsklub lééf haar passies: die liefde vir musiek en diere. Chané Valentine bied musikale vernuwing in moderne Afrikaanse popmusiek!
Be the first to comment