
Brian Nieuwoudt & Fred Rheeder – TUISGEBAK
Wanneer jy die woord TUISGEBAK hoor, hoor jy dadelik die klank van ‘n koolstoof wat snoesig knetter en die reuk van vars brood. Maar sodra jy hierdie album aansit, wil jy skoffel om daai einste tafel met warm brood op en skuins voor die stoof loop verby wals.
Brian Nieuwoudt verras ons met ‘n tuisgebakte album; ja letterlik in die sitkamer opgeneem, wat nie terugstaan vir enige Boeremusiekalbum nie. Nie as jy kyk na sy rye en rye toekennings wat teen sy mure hang nie!
Hierdie boorling van Namakwaland, kén Weskus- en Boeremusiek. Net soos hy uiteenlopend studeer het; eers Teologiegraad en daarna bekend geword in die boer-en wynbedryf, so ook is sy albums gemeng met interressante instrumentesamestellings.
Soos hulle in Namakwaland sê; het Brian eerste kom kop uitgesteek in 2001 met sy debuutalbum, Hier’t jou lekker ding. Die vis het nog nie eers geloep nie, toe wen hy twee jaar opeenvolgend die GERAAS MUSIEKTOEKENNING vir Beste Boeremusiekalbum van die jaar!
Daarna bring hy as BASJAN ‘n DVD uit; ‘Basjan se Weskus Party’. Dit was skaars op KykNET uitgesaai, toe trek hy nette in en vang verkope van meer as 10 000 eenhede. Op die DVD se hakke volg toe BASJAN SE WESKUS PARTY 2 album wat binne 6 weke goue-status bereik!
Wat hierdie Boeremusiekalbum anders maak is die feit dat dit die laaste keer is wat ons oom Fred Rheeder gaan hoor. Brian en Oom Fred het in 2011 ‘n tuisopname in Oom Fred se sitkamer in Mosselbaai gemaak, waar hul kort-kort die Konsertina moes asem gee wanneer daar ‘n motor verby sou ry. Brian beskou oom Fred as een van die land se bestes op ‘n Banjo. Hy het hierdie opnames gehou en besluit om ‘n droom te voltooi en oom Fred se opnames finaal vlerke te gee. Hierdie is ook die eerste opname waar Brian self die Boerekonsertina speel, maar hartseer om te weet dis die laaste keer wat ons oom Fred gaan hoor…
Net soos kreef, kabeljou en lekker sê-goed deel is van die Weskus, is hierdie album gelaai met stereotipes wat perfek pas by ‘n Boeremusiekalbum wat gelaai is met Polka’s, Walse tot die Settees. Van tradisionele verwerkings tot nuutskeppings uit Brian se Weskuspen.
Die beste bestandele was reg. Die tyd was reg en Brian het die album by sy huis klaargemaak en dus kan ons nou met eerlikheid en opregtheid, nes sy musiek, sê hierdie album is TUIGEBAK!
Soos Kreef op ‘n koerantpapier met ‘n blik Mayonaise, so is hierdie album vingerleklekker vir die liefhebbers van Boeremusiek. Trap vas, en lek jou vingers af. Brian se vingers gaan nog vir jare jeuk wat gaan verseker dat Boeremusiek nog vir lank sal voortleef!
Be the first to comment