
BLACKIE SWART – GEMAAK OM TE DANS
Partytjietyd? Nie sónder Blackie Swart se splinternuwe album nie!
Want dié een is gemaak om op te dans!
Die gewilde liedjieskrywer-sanger en kitaarkoning Blackie Swart vier twintig roemryke jare in die musiekbedryf met ‘n spesiale kuier-album: Gemaak om te dans.
Op sy kerfstok is, naas ‘n aantal Hooked-on-guitar- en boeremusiek-albums, vyftien vokale uitreikings. Op sy sestiende, Gemaak om te dans, word twintig kookwatersnitte ingesluit.
Alles het met die reuse-treffer Liewe Lulu begin. Daarmee saam talle goue, multi-goue en platinum-toekennings – onder meer vir die CD’s Liewe Lulu, Lulu trek Wes, Anna, Pers Kombers, Jy kielie my, Kerkstraat en die DVD Live @ The Barnyard. Saam met Blackie se instrumentale albums is reeds oor die 600 000 CD’s verkoop.
Dié vieringversameling bevat oorspronklike opnames, hermengweergawes, nuwe opnames – én nóg treffers – met die toonvenstersnit Hello my mater. “Dit is geskryf vir my vriende: dié wat agtergebly het, dié wat aanbeweeg het, dié wat nie meer met ons is nie, en dié wat vêr is – en na wie ek baie verlang,” sê Blackie.
Blackie se energieke glimlagmusiek is nog altyd gemaak om op te dans. Dié veelsydige kunstenaar het egter ‘n ernstiger kant ook, soos boeiend en nostalgies verwoord in sy komposisies Los jou spore, Dis winter, Kerkstraat en, veral, In Afrika. “Dit is een van my beste gedigte en ek wil dit graag met luisteraars deel. Dalk is dit my laaste sê. Dit is my ode aan die kontinent waar ons woon.”
Blackie skryf eerlik en onopgesmuk. Sy musiek en lirieke is ménsgerig; oor die land en sy plekke en sy mense: gegeur met humor en stuitigheid en geslyp met mooi sentiment en hartsnaar-emosie.
Tussen die vrolike snitte hierop is Armgat, Pappot, Windgat bakkie, Sit af jou foon, Is daar nog wyn? en, natuurlik Laat hy val (waar hy wil)! En moenie van die Langpadkeurspel met Visvang, Gysie, Stupid liedjie en Toe word ons dors vergeet nie! Voeg daarby die snitte Saam met die wind, Daar’s lewe na vyf en Rembrandt van Rijn en Blackie bied sy bewonderaars sy beste.
Al hierdie snitte word gepas afgerond met die heildronklied: Lig jou glas.
Gesondheid!
Be the first to comment