Blackie Swart – Boeretroos

Blackie Swart – Boeretroos

Die titel, Boeretroos, is heel gepas, want soos die Boer sy koffie geniet, sal die musiek onmiddellik byval vind by diegene met ‘n liefde vir Boeremusiek, kompleet met konsertina, kitaar en banjo. Met die uitsondering van die liedjies,” Ou wapad” en “Gou eses snare, het al die nommers konsertina by en gee dit beslis ‘n ander “geur” aan die kitaarklanke van Blackie Swart.

Blackie bewys ook egter sy talente met vlymskerp lirieke in “Blou bul Golfdag”, “Beautiful in Suid-Wes”, “Langs die Kantlyn” en “Witmosselskoffel”. Liewe Lulu kry ‘n nuwe/ou baadjie, wanneer die oorspronklike Boeremusiek weergawe sy weg vind tot op die album. As Piet vir Karlientjie is ‘n ou nommertjie, gekomponeer deur wyle Nico Carstens en Blackie wou nog altyd dié liedjie met konsertina aan sy sy, opneem. Liedjies soos “Buffelsfontein”, “Mandjiedans”, “Fluit-fluit” en “Zamalek” is nie sommer net dansmusiek nie, want hier wys Blackie Swart sy vaardigheid met die ses-snaar en alhoewel gedrewe deur die agtergrond dansritmes van boeremusiek, sal die fyner oor baie gou optel dat die melodieë nie sommer op enigeen se vingers lê nie. Sy mentors Hansie Roodt en Chet Atkins se invloede kan in Blackie se styl gehoor word.

Boeretroos is ‘n album propvol verskeidenheid met interessante verwerkings en style, dus is daar nie ‘n oomblik van musikale verveeldheid nie. Die album is geskik vir “los in die CD-speler” en is gemaak om die aandag vas te vang en die voete te laat jeuk.
Lank lewe Boeretroos!

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*