
BEVONKTE AFRIKAANSE TREFFERS
Die CD-speler se laaitjie word nog elektronies ingetrek, dan val Gian Groen al met die deur in die huis met ‘n verrassing; sy eie liedjie 4 SEISOENE KIND wat hy vir Laurika Rauch geskryf het; en jy verstaan hoekom ‘n liedjie eenvoudig net anders klink wanneer die skrywer dit self sing. Soos wat die een treffer op die ander speel, kan jy nie help om al harder te begin luister nie! Dan besef jy hierdie albumtitel is ‘spot on’ en jy voel sommer stout om die letter ‘N’ uit die eerste woord van die titel te haal.
20 Top kunstenaars en 20 treffers, maar wat hierdie album uniek maak teenoor enige ander kompilasie-album, is dat helfte van die liedjies, nuutgeskryf is spesiaal vir hierdie album. En ja, jy kan hul al treffers noem, want selfs al lê die snitte tussen groot name, staan nie een liedjie terug vir ‘n ander nie. Nuutskeppings soos RAMSKILPAD deur Jan Rhaap het alreeds ‘n glimlag op my gesig gesit, waarna SOPHIE SE KAGGEL van Stefan Burger jou hart warm maak. Izak Davel gaan jou beslis dansvloer toe roep met sy nuwe treffer, HEY, HEY, HEY.
‘n Verrassing is Camille! Sy’s ‘n Amerikaanse sangeres van LA, wat met ‘n Suid Afrikaner getroud is. Luister jy na haar HIER HET EK JOU GEVIND, is dit byna onmoontlik om ‘n aksent op te tel. Hierdie album spog met groot name soos Jan Blohm. Wouter van de Venter se nuutskepping, LAAT HOM SKYN is ‘n goedvoelliedjie met opbouende lirieke.
André Swiegers is altyd soos ‘n vars briesie op enige album en hier is sy gewilde, BLOMMEKIND. Piet Botha vat ons deur die treffer-stasies met sy MIDDERNAGTREIN, terwyl Willem van der Ryst se STORIEBOEK jou wil laat dans op die perron. Beeskraal hou die volume nog hoog op snit 19 met hul immergewilde treffer, DUISEND URE, terwyl Bacchus Nel se MATROOS die album, anders, afsluit.
Nee wat, hierdie gaan beslis die album wees wat die langste in jou kar gaan draai. Dis styf verpak met treffer op treffer!
Jou ore gaan nie glo wat het hul getref het nie!
Be the first to comment