BENICE – HIER NABY U

BENICE – HIER NABY U

“As jy jou bes doen, sal God die res doen. Dit is alles net genade,” meen die sprankelende sangeres Benice. Haar jongste album, Hier naby U, is een van die mees begeesterde albums in die geestelike musiekgenre.
Musiek vloei in haar are.  Sy is op 24 Julie 1982 in Odendaalsrus gebore. Haar pa is die bekende musikant Hennie de Bruyn van die Kitaarkêrels. Op Koster was sy kleintyd al by die kerk betrokke en was net vyf jaar oud toe sy met twee blonde poniesterte haar heel eerste lied voor mense gesing het. “Ek glo dit is ‘n ingebore passie om te sing. My ouers het altyd gespog dat ek met ‘n mikrofoon in my hand gebore is. Soos wat ek ouer geword het, het ek besef dat musiek regtig my passie is en dat ek dit met almal wil deel.”

Sy het in 1999 haar matriek aan die Hoërskool Brandwag in Benoni verwerf. Die liedjieskrywer en musiekvervaardiger Sias Borman was nie net by haar eerste album betrokke nie, maar het ook haar hart verower. Hulle is in 2001 getroud. Uit dié huwelik is twee pragtige dogters, Kayla en Denike, gebore.
Benice het bekendheid verwerf om haar album Here praat met my en met sekulêre album, Vir ewig en altyd – rustig vars en oorspronklik – het sy puik werk gelewer.. Haar passie vir haar geloof skitter egter op haar gospelwerk. Haar gesinsgeluk borrel in haar musiek, met liedjies uit Sias se pen, begeester deur die Heilige Gees. Dié paartjie se musiekbediening is op gelowiges van alle ouderdomme gerig.  Die nuwe album bevat twaalf bekoorlike snitte. Benice vertolk elke lied met oortuigende oorgawe, opreg en eerlik. Haar mooi stem komplementeer die luisteryke musiek en knap verwerkings. Die luisteraar is deurentyd bewus van die boeiende waarheid en liefde wat uit die lirieke straal en tot jou siel spreek.

Die goedheid van haar Skepper maak haar opgewonde. “Jesus het soveel passie en liefde vir mense gehad,” sê Benice “Dit is my begeerte dat mense dieselfde passie en liefde van my ook kan ervaar.”
Die twaalf liedjies op Hier naby U jubel en juig, loof en eer. Luister: Nuwe begin, Daar is iemand wat jou liefhet, Hoe groot is ons God, Through the Fire, Het jy al gedink?, U tel my op, If that isn’t love, Homesick en die twee duette – Die Here wag reeds daar en Gebed – saam met dogter Kayla, wat ook met ‘n engelstem geseën is.
Ervaar bemoediging, opheffing en goedheid!
Benice bring God se liefde nader.

MEDIA-UITREIKING
Datum: November 2017
Uitgereik deur VONK-Musiek
Kontak Lydia Winchester vir meer inligting
Tel: (011) 475 2187 – Sel: 082 554 8453 – E-pos: lydiaw@mweb.co.za

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*