ANTON MYBURGH – 10 JAAR VERSAMELING

ANTON MYBURGH – 10 JAAR VERSAMELING
Tien uit tien beteken vir die gewilde sanger en liedjieskrywer Anton Myburgh iets heel anders en selfs meer opwindend. Ter viering van sy eerste dekade in die musiekbedryf het hy ‘n totaal van negentien treffers vir sy album, 10 Jaar Versameling, byeengebring waarvan vier splinternuut is. Die album spring sommer weg met Anna van Saldanha, ‘n voetestamp-treffer wat reeds die no. 1-plek op die radiostasie IFM 102.2 beklee.
“Dit voel glad nie so lank nie. Ek is net bly ek is nie ‘n nuweling wat onder moet begin nie,” vertel Anton wat pleks van met die spreekwoordelike goue lepel in die mond met ‘n goue plektrum in die hand gebore is.
10 Jaar Versameling, wat ook die bonus-CD van sy album Jy’s die water insluit, bevat die musikale doepa wat Myburgh deurentyd op die kruin van sukses gehou het: van Boer en sy roer en Tune Tune Baboon tot Ek sit links voor en Dream masjien. Naas Anna van Saldanha is die ander nuwe liedjies Sterretjie, Ossewa en Eendag op ‘n reëndag.
“Ossewa is ‘n lied wat ek oor die Groot Trek en die pad van Afrikaans geskryf het en is een van my gunstelinge,” gesels die trefferfabriek van die Vaaldriehoek. “Eendag op ‘n reëndag handel oor die soeke na ‘n liefde en ek het ‘n lekker ou Afrikaanse lekkerny daarin, soos ‘olka bolka riebietjie stolka, amper maar nog nie stamper en hoe kaler jonker, hoe minder pronker’. Sterretjie handel oor die ontmoeting van twee eensame harte en die geluk van nuwe liefde.”
Anton reken sy grootste sukses in die afgelope dekade was die volume werk wat hy as sanger en komponis gelewer het. Die les wat daarmee saamgegaan het, was om “plat op die grond te bly en almal met respek te behandel”.
“Musiek is vir my die enigste ding wat ek kan doen. Gelukkig kan ek ‘n bestaan daaruit maak. Musiek is vir my immers soos water, ek kan nie daarsonder nie!”
Daar is selde tyd om weg te breek, maar as hy wel tyd kry om vir ‘n tydverdryf af te knyp, speel hy graag gholf. “Al my energie gaan in my werk in. Ek is voltyds besig met musiek en het ook onlangs ‘n teater, die J&B Lapa-teater in Vanderbijlpark, op die been gebring waar my kollegas lekker kan kom optree.”
Die meeste van Anton se treffers gebeur “spontaan”, sonder dat hy doelbewus probeer om met nog ‘n goue melodie vorendag te kom. Sy geduld en eerlikheid, wat ook in sy tydlose melodieë eggo, is tekenend van sy onuitputlike talent. Nes met Goue Plektrum, Anton se DVD-versameling, is die dubbel-CD 10 Jaar Versameling tot boordens toe vol met daardie dawerende deuntjies en musikale sterrestof wat sy loopbaan tot dusver gekenmerk het.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*