
Alan Ladd – Country Things
Country was nog altyd sy ding! Alan Ladd, of soos almal sy familie hom ken, Louw Wessels is gebore in Zambia en die jongste van twaalf kinders. Sy ouer broer het ons geken as Kupido. Dit was nie lank nie, toe begin Alan met sy eie loopbaan en Cora-Marie besluit toe Louw Wessels lyk nét nie reg op ‘n plaat se omslag, en sy gee hom die naam; Alan Ladd. Min het ons (en seker sy ook toe) geweet hierdie man gaan Country-musiek op sy kop draai en rekords breek met een na die ander album. Kom ons slaan gou die snare en blaas deur ‘n bekfluitjie om so bietjie te spog: Sy Gospel Country Klanke album verkoop in twee maande meer as 40 000 kopië. Hy boer op die Top 20 vir maande. Sing Country was binne twee maande Platinumstatus. Hy verwerf driedubbel Platinumstatus in slegs 18 maande met verkope van meer as 150 000 eenhede tesame. Sy DVD, Country LIVE sny deur die Gouestatuskerf binne 2 maande. En dan word my asem op as ek nog die hoeveelheid SAMA- en ander toekennings moet uitblaas…
Country Things is sy nuutste album en gevul met treffer op treffer in eg Country styl. Soms so goed, dat jy wonder of die produksie nie in Nashville gemaak is nie.
I DON’T KNOW WHY I LOVE YOU BUT I DO steel dadelik jou hart, net om dan weggevoer te word na BLUEBERRY HILL. THE OLDER I GET is die mooiste Country-ballade met die lewenslesse wat jy saam met jou kan dra wanneer jy die deuntjie fluit. WAGON WHEEL kan jy skaars glo dis Alan wat daar sing, want meer eg Country kan jy nie in ons land kry nie!
Bobby Darin het THINGS (‘n duet met Cleo) in 1962 geskryf en hy was nommer 3 op die US treffersperade en Alan stof hom behoorlik af. Net ‘n jaar vroeër het Willie Nelson die groot treffer, CRAZY vir Patsy Cline geskryf en dis verfrissend om veral daardie een op ‘n Country album te hoor. YOU’VE GOT TO TALK TO ME gaan beslis binnekort op elke dansvloer gehoor word, terwyl EIGHTEEN WHEELS AND A DOZEN ROSES, asook DRIVIN’ MY LIFE AWAY spesiaal op die album gesit is vir al die siele op wiele daar buite wat dit beslis gaan waardeer.
Hierdie album is ‘n móét vir enige Country-liefhebber se versameling. Dit voel of jy na vloeiende goud luister wat ‘n glimlag op jou gesig sit soos jy deur die liedjies gaan.
Duidelik kan mens in die stiltes tussen die note hoor, Alan Ladd se hart klop country!
Be the first to comment